Tuesday, July 6, 2010

Junie 2010 - ons nuwe hoofstuk begin in Ondjiva, Angola
Ondjiva is in die suide van Angola, ongeveer 40km vanaf Namibie grens en normaalweg sal ons vanaf Johannesburg na Windhoek en dan Ondangwa vlieg.  By die Protea Hotel daar oorslaap en in Oshikathi die volgende dag inkopies doen (daar is darem 'n klein winkelsentrum met bv. Game, Pick'nPay, ens). Die geldeenheid in Angola is Kwanza en 1 Kz is ongeveer gelyk aan R0.08.




Protea Hotel - Ondangwa (Namibie)


Aankoms by nuwe huis in Ondjiva...
Dit was gelukkig donker en ons was redelik moeg na die twee dae se "travel" en inkopies om te veel te skrik toe ons uiteindelik by die finale bestemming aankom. Maar die volgende oggend het ons gesien dat ons in 'n pienk huis met rooi dak bly, ook is daar geen gordyne voor die vensters nie, net oral sulke "blou-bul-blou" blindings en met alles wat die Chinese van China af gebring het is die stoele, beddens en selfs toilette baie laag op die grond. Maar ons kan glad nie kla nie, alles wat ons nodig gehad het het ons binne twee dae aangekoop en alhoewel dit vreemd voel om so "back-to-the-basics" te lewe na die huis in Kathu wat redelik VOL snuisterye was, is dit eintlik baie lekker!! Hier volg 'n paar fotos van die huis:



Die Kamp en Kantore
Die kantore en huise is alles in een kampterrein ongeveer 5km buite Ondjiva in die rigting van Cuvelei. As die wind waai is dit omtrent soos 'n wit kalkreet stofwolk wat jou bestorm en dan moet jy maar moed opgee en more moet die huishulp maar weer afstof! (Amper net so erg soos Kathu se rooi stof wolke van die myn).  Die Chinese bly in sulke klein "container" huisies met bunker beddens 3 opmekaar en 6 ouens in een kamer.....Ons het dus baie om voor dankbaar te wees. Hulle slaapkamp is ongeveer 1km van ons huise af. Hulle werk 7 dae 'n week van 6 tot 6.
Gelukkig het ons darem internet by die kantoor en al die ander noodsaaklike fasiliteite om te kan werk.  Die fotostaatmasjien is Chinees en ek sukkel soms om uit te werk watter knoppies om te druk, maar die afdrukke kom darem uit.

Elmari en Jannie werk saam in een kantoor (dan kan ons darem gesels as dit nie besig is nie). Dit is die ontvangs met al die rooi "in" rakkies vir almal se pos.